Afrika staan voor groot uitdagings: armoede, korrupsie, gebroke gesinne, spanning tussen volke en ’n kringloop van beskuldigings en vergelding wat al geslagte lank voortduur. In Suid-Afrika het Afrikaners hulle eie verhaal van volharding, verlies en sukses. Tog klink daar te midde van hierdie druk ’n stil maar kragtige roeping vir Afrikanermans: om leiding te neem, nie met gebalde vuiste of ’n slagoffer ingesteldheid nie, maar met die blymoedige krag van manne wat aan Christus behoort.
Douglas Wilson beskryf hierdie roeping eenvoudig:
“Manlikheid is die blymoedige aanvaarding van opofferende verantwoordelikheid.”
Ware manlikheid gaan nie daaroor om aan ander voor te skryf of om moeilike dinge te vermy nie. Dit is die vreugdevolle bereidheid om duur verantwoordelikheid te aanvaar – meestal ten koste van jouself en altyd tot voordeel van ander.
Jesus self het die voorbeeld gestel. Hy het gesê:
“Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Markus 10:45).
Hy het nie aan mag vasgehou nie, maar Homself verneder, die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en aan die kruis gesterf (Filippense 2:5-8).
Dit is nie swak leierskap nie. Dit is die sterkste soort leierskap.
Dink aan ’n kragtige wilde mustang – vol spoed, krag en vuur. As hy ongetem bly, hardloop hy waar hy wil en is hy ‘n gevaar vir elkeen wat in sy pad kom. Maar wanneer hy ingebreek is en afgerig word, word daardie selfde krag nuttig: hy kan vrag dra en doen wat sy ruiter van hom verwag. Afrikanermans het daardie rou krag in hulle geskiedenis en pioniersgees van harde werk, veg, ontbering en volharding. Die vraag is of daardie krag steeks en selfsugtig sal wees, of hervorm kan word om onder gesag van die Koning van konings tot diens van ander te wees.
Selfbeheersing
Die Stoïsynse filosowe het iets belangriks oor menslike krag verstaan. Hulle het geleer dat ware vryheid daarin lê om die verskil te ken tussen dit wat binne jou beheer is en dit wat nie is nie. Epiktetus het dit duidelik gestel:
“Sommige dinge is binne ons beheer en ander nie. Binne ons beheer is ons oordeel, ons gesindheid, ons begeertes en ons afkeer – kortom, alles wat ons self doen.”
Marcus Aurelius, die Romeinse keiser en Stoïsyn, het praktiese raad gegee wat vandag nog geld. In een van sy oordenkings skryf hy (ek het dit effe aangepas om dit binne ‘n Christelike pespektief te stel):
“Alles wat jy bid om eendag, op ’n bepaalde tydstip deur die loop van jou lewe, te bereik, kan reeds nou joune wees – solank jy vir jouself ruimte gun. Dit is: as jy jou verlede kan agterlaat, jou toekoms aan die voorsienigheid van God kan oorlaat, en die hede uitsluitlik na eerbied en geregtigheid stuur.”
Hy moedig mense aan om op die hede te fokus, met eerbied en geregtigheid te leef, die verlede agter te laat en die toekoms aan God se (my aanpassing) voorsienigheid oor te laat. In ’n ander gedeelte skryf hy aan mense wat voel hulle is onreg aangedoen:
“Oor jou eie gedagtes het jy mag, maar nie oor die dinge wat buite jou gebeur nie. Verstaan dit, en jy sal sterkte vind. Soos ’n mens se gedagtes voortdurend is, só sal ook die geaardheid van sy gemoed wees; want die siel word geverf deur die gedagtes. Laat jou gedagtes nie draal oor wat jy kortkom nie, maar bepeins dit wat jy reeds ontvang het. Verwerp die gevoel van onreg, en kyk, die onreg self sal verdwyn.”
Hierdie Stoïsynse waarhede pas ook binne ’n Christelike lewe. God is nie ’n onpersoonlike noodlot nie. Hy is ’n persoonlike Vader wat alles laat meewerk ten goede vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28). Die omstandighede wat jy beleef – ekonomiese druk, viktimisering op grond van velkleur of gesinsprobleme – is nie toevallig nie. Dit is die terrein waarbinne God jou vorm.
Selfbeheersing beteken dat jy aanvaar wat jy nie kan verander nie, terwyl jy vra: “Here, wat wil U hê moet ek in hierdie omstandighede doen en wat wil U hê moet ek word?”
Die Bybel roep ons ook tot hierdie innerlike verandering.
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2).
Wanneer bitterheid of afguns jou hart wil vul, kies eerder om te dink aan alles wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en lofwaardig is (Filippense 4:8). Dit beteken nie jy ontken werklike onreg nie. Dit beteken jy weier om deur onreg oorheers te word.
Getrouheid / Pligte in jou amp
God plaas elke man in bepaalde ampte – rolle met werklike verantwoordelikheid. Die Stoïsyne het gepraat van om getrou wees aan jou plek in die lewe. Christene verstaan hierdie rolle as ons roeping.
As Christen is jy ’n rentmeester van God se genade (1 Petrus 4:10). Jou eerste plig is om Christus te ken, Hom te volg en Hom goed te verteenwoordig. Dit vra daaglikse selfbeheersing, sodat jou lewe na die Verlosser wys en nie na jouself nie.
As eggenoot is jy geroep om opofferend lief te hê.
“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25).
Dit is Doug Wilson se woorde in praktyk. Blymoedige verantwoordelikheid beteken om te beskerm, te voorsien, te luister en geestelike leiding te gee – selfs wanneer dit jou ongemaklik laat of jou trots skend.
As vader moet jy vir jou huisgesin sorg en jou kinders opvoed (1 Timoteus 5:8). Jy wys deur jou eie selfbeheersing vir jou seuns hoe om hulle eie krag te beheer, en vir jou dogters hoe godvresende leierskap lyk. Jy laat ’n erfenis van hoop na, nie van bitterheid nie.
In jou beroep – of jy nou ‘n boer, onderwyser, bouer, sakeman of gemeenskapsleier in Orania of elders is – werk jy “soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kolossense 3:23). Die Stoïsynse pligsbesef word Christelike aanbidding wanneer jy jou werk met uitnemendheid en eerlikheid doen vir die Koning wat jou daardie taak gegee het.
In al hierdie rolle is jy ’n rentmeester onder bevel. Jy besit nie jou krag, jou gesin of jou posisie nie. Jy bestuur dit namens die Koning wat jou eendag sal vra: “Wat het jy gedoen met dit wat Ek aan jou toevertrou het?”
Hoop, dankbaarheid en vergifnis: om die ego se slagysters te vermy
Selfbeheersing en pligsgetrouheid is net volhoubaar wanneer dit gedra word deur drie Christelike deugde wat die ego aan bande lê.
Hoop beskerm jou teen moedeloosheid. Wanneer dinge donker lyk, herinner hoop jou daaraan dat Christus regeer en alles op die regte tyd sal herstel. Hierdie hoop is ”’n anker van die siel wat veilig en vas is” (Hebreërs 6:19). Dit help jou om rustig en met vertroue leiding te gee, eerder as om in paniek en wanhoop te verval.
Dankbaarheid beskerm jou teen afguns en ‘n gekla. Marcus Aurelius waarsku dat jou siel nie gekleur moet word deur dit wat jy nie het nie. Die Skrif leer dieselfde: “Wees in alles dankbaar” (1 Tessalonisense 5:18). Dankbaarheid verskuif jou aandag van wat ander het of wat jy verloor het, na wat God reeds aan jou gegee het. Dit bring ‘n gevoel van geborgenheid en kweek vrygewigheid.
Vergifnis breek die kettings van bitterheid en ’n slagoffer mentaliteit. Jesus leer ons om ander te vergewe soos Hy ons vergewe (Kolossense 3:13). Wanneer jy die gevoel van onreg laat gaan, hou die mense wat jou seergemaak het op om jou te beheer. Vergifnis ontken nie werklike skade nie. Dit weier net om toe te laat dat daardie skade jou toekoms dikteer of jou siel vergiftig.
Hierdie drie deugde vernietig die gedrag wat gemeenskappe afbreek: afguns, woede, bitterheid, wrokke dra en ‘n slagoffer ingesteldheid wat sê: “Die wêreld skuld my iets” of “Hulle sal ons nooit toelaat om te slaag nie.” Wanneer Afrikanermans in hoop, dankbaarheid en vergifnis leef, stel hulle iets raars en aantreklik ten toon: sterk manne wat nie deur hulle verlede of deur ander mense se opinies beheer word nie.
Om ‘n gemeenskap te verander
Dink net hoe Orania sou lyk as sy mans só leef. Gesinne sal sterker wees omdat eggenote en vaders blymoedig verantwoordelikheid aanvaar in plaas daarvan om na werk, drank, sport of bitterheid te ontsnap. Jong manne sal sien dat krag gebruik word om op te bou, nie om te kla nie. Die gemeenskap sal bekend wees vir uitnemendheid – nie omdat dit homself in bitterheid afsonder nie, maar omdat dit met eerlikheid en diensbaarheid leef.
Stoïsynse selfbeheersing saam met Christelike genade vorm mense wat aanvaar wat hulle nie kan verander nie, maar hard werk aan dit wat hulle wel kan verander. Orania beleef reeds beduidende vlakke van selfstandigheid. Wanneer dienende leierskap, ruim vergifnis en hoopvolle optrede daarby gevoeg word, sal dit die wêreld aangryp.
Hierdie benadering sal nie anders kan as om soos ‘n veldbrand te versprei nie. Sterk gesinne bou stabiele dorpe. Stabiele dorpe bou streke wat goed funksioneer. Goed funksionerende streke word voorbeelde wat ander wil navolg, eerder as wat dit konflik aanblaas.
Afrikaners as dienende leiers in Afrika
Afrika het nie nog leiers nodig wat net regte opeis en verantwoordelikhede ignoreer nie. Afrika het manne en gemeenskappe nodig wat blymoedig opofferende verantwoordelikheid aanvaar.
Afrikaners beskik oor vaardighede, ’n goeie werksetiek en ’n geskiedenis van hoe moeilike grond in vrugbare plase en goed funksionerende dorpe omskep kan word. Hierdie gawes kan die vasteland dien wanneer dit in die Gees en liefde van Christus aangebied word, en nie uit hoogmoed nie.
’n “Stad op ’n berg” (Matteus 5:14) kan nie weggesteek word nie. Orania en ander Afrikanergemeenskappe kan ligte wees deur te wys hoe selfbeheersing, opoffering, sterk gesinne, eerlike werk en vergifnis in die praktyk lyk. Ander gemeenskappe mag dalk met ons geskiedenis of politiek verskil, maar hulle respekteer bekwaamheid, regverdigheid en eerlikheid, solank hulle ook met respek behandel word.
Wanneer Afrikanermans met hoop eerder as bitterheid lei, met dankbaarheid eerder as aanspraak, en met vergifnis eerder as eindelose vergelding, word die kringloop van slagofferskap en wraak verbreek.
Dienende leierskap beteken nie swakheid of dat jy jou identiteit prysgee nie. Dit beteken dat jy vanuit groter selfvertroue (geanker in Christus) ander dien, terwyl jy getrou bly aan die Koning wat jou geroep het. Só kan Afrikaners ’n waardevolle bydrae tot Afrika se toekoms lewer sonder om deur konflikte van die verlede vasgevang te bly.
‘n Roeping om Afrika te verander
Afrikanermans, God het aan julle krag, ’n geskiedenis en ’n lewende geloof gegee. Die wilde mustang binne-in jou kan óf vernietigend steeks rondhardloop, óf deur die Heilige Gees afgerig word om ook die laste van ander te dra.
Die keuse is elke dag prakties: “neem elke gedagte gevangene” (2Kor.10:5), aanvaar wat God oor jou pad gebring het, en wy jou energie aan die ampte wat Hy aan jou toegeken het – as Christen, eggenoot, vader en werker.
Doen dit met die hoop dat die Koning eendag vir jou sal sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg.” Doen dit met dankbaarheid vir wat jy ontvang het. Doen dit met vergifnis wat jou en ook ander van die verlede en julle wonde bevry.
Die gevolg sal nie net jou eie volk versterk nie; dit sal ook aan ’n vasteland wat honger is vir mans wat deur diens lei, ’n beter weg wys.
Die Koning van konings soek rentmeesters wat blymoedig en self-opofferend verantwoordelikheid aanvaar.
Die vraag is nie of Afrika sulke mans nodig het nie.
Die vraag is: Sal Afrikanermans na vore tree en die nodige doen?



0 Comments