Christene en sosiale media: ’n pad van waarheid, liefde en stigting

by | Apr 20, 2026 | Geloof

Nuwe platvorms; eeue-oue waardes

Ons leef in ’n tyd waar elke individu ’n stem het en daardie stem word gehoor. Sosiale media het die wêreld verander in ’n digitale markplein waar idees, emosies, menings en oortuigings voortdurend uitgeruil word. Dit is ’n kragtige instrument, maar ook ’n gevaarlike een.

Vir die Christen gaan dit egter nie bloot oor tegnologie nie. Dit gaan oor roeping.

Die vraag is nie: Wat mag ek sê? nie. Die vraag is: Wat behoort ek te sê? Nie: Wat is my reg? nie, maar: bou dit my naaste? Stig dit my gemeenskap? Verheerlik dit God?

Die apostel Paulus stel dit helder: “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.” (1 Kor. 10:23) Hier lê die kern van Christelike sosiale media-etiek. Ons leef nie volgens die minimum standaard van regte nie, maar volgens Christus se standaard van liefde.

God se oorvloed en ons ingesteldheid

Die manier waarop ons praat – ook aanlyn – vloei uit die toestand van ons hart.

As ons glo dat ons in ’n wêreld van tekort leef, sal ons optrede gekenmerk word deur:

  • Kompetisie
  • Selfverheffing
  • Afguns
  • Vrees

Maar die Skrif leer ’n ander werklikheid: ons Vader gee uit sy oorvloed.

Jesus self leer ons om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit impliseer vertroue, nie angs nie. Wanneer hierdie waarheid diep in ons harte wortel skiet:

  • hoef ons nie aandag te soek deur drama nie
  • hoef ons nie ander af te trek om self beter te lyk nie
  • hoef ons nie jaloers te wees op ander se sukses nie
  • word ons mense van rus.

En mense wat in God se voorsiening rus, skep vrede, ook op sosiale media.

Trots en afguns: die verborgenes agter aanlyn konflik

Die Skrif waarsku ernstig teen sekere sondes wat veral sigbaar word in ons woorde:

“Hierdie ses dinge haat die Here… trotse oë, ’n leuenagtige tong… en een wat tussen broers tweedrag saai.” (Spreuke 6:16–19) Hierdie lys is merkwaardig relevant vir sosiale media.

Trots

Trots wil gesien word. Dit wil erkenning hê. Dit wil altyd reg wees.

Aanlyn manifesteer so:

  • argumentering om te wen, nie om te verstaan nie
  • subtiele selfverheerliking
  • neerhalende kommentaar

Afguns

Afguns kan nie ander se voorspoed of erkenning verdra nie. Aanlyn manifesteer dit as:

  • foute uitwys in ander pogings
  • siniese en moedswillige opmerkings vermom as humor
  • verdagte interpretasies van ander se motiewe

Maar die Christen, wat glo dat God voorsien en uit dankbaarheid leef, hoef nie in hierdie slagysters te trap nie. Ons kan ander seën, want God het ons reeds met soveel genadegawes geseën.

Die krag van woorde: digitale vure en genesende heuning

Die Bybel beskryf woorde met treffende beelde: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.” (Spreuke 16:24)

Maar daar is ook ’n ander kant: “’n Kwaadstoker skei vriende van mekaar.” (Spreuke 16:28) “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood…” (Spreuke 26:20)

Sosiale media funksioneer soos ’n vuur-ekosisteem:

  • ’n Enkele negatiewe plasing kan soos ’n vonk wees
  • Kommentaar hou die vuur aan die gang
  • Deel (shares) versprei dit verder

Die vraag is daarom nie net: Is dit waar? Nie, maar ook: Wat gaan hierdie woorde vermag of aanrig? Want selfs ware woorde kan onnodig vernietigend wees as dit sonder liefde gedeel word.

Praktiese wysheid: ses vrae wat jou woorde met sou besprinkel

Om skinder en afbrekende gesprekke te vermy, moet ons Galásiërs 5:22 in gedagte hou: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede… selfbeheersing.”

Die volgende ses vrae sal ons lei om tot stigting aan gesprekke deel te neem:

  1. Is dit waar?
  2. Is dit nuttig?
  3. Is dit inspirerend?
  4. Is dit nodig?
  5. Is dit vriendelik?
  6. Is die persoon deel van die oplossing?

Indien jy nie positief op AL die vrae kan antwoord nie, sal dit dwaas en verkeerd wees om iets te deel of aan ‘n gesprek deel te neem.

Hierdie vrae dwing ons om mooi te dink voor ons reageer of saam praat; dit sluit direk aan by Jakobus: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat…” (Jakobus 1:19) In ’n wêreld van talle emosionele snellers en onmiddellike reaksies, is lankmoedigheid en selfbeheersing broodnodige geestelike dissiplines.

Die dissipline van stilbly: nie elke twis is joune nie

Een van die grootste wyshede wat ’n Christen kan leer, is wanneer om nie te praat nie. “Hy wat ’n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie…” (Spreuke 26:17)

Sosiale media lok ons uit om:

  • oor alles ’n mening te hê
  • op elke provokasie te reageer
  • elke debat te betree en die “uitklophou te probeer slaan”

Maar wysheid sê:

  • nie elke kwessie vereis jou stem nie
  • nie elke fout moet reggestel word nie
  • nie elke aanval moet beantwoord word nie

Jesus self het talle kere net geswyg.

Waarheid en liefde: die balans wat hoop skep

Waarheid sonder liefde is koud en hard. Liefde sonder waarheid is oppervlakkig en leeg. Maar saam bring dit hoop.

Hoop:

  • word met moeite gekultiveer
  • is langdurig
  • verenig mense

Vrees:

  • versprei vinnig
  • is kortstondig, daarom moet dit kort-kort aangeblaas word
  • vernietig vertroue
  • verdeel gemeenskappe

Weinig gesprekke op sosiale media is onskuldig, heelwat hiervan is sensasionele halwe waarhede wat meer daarop fokus om iets/iemand teen te staan as op te bou. Dit manipuleer die leser se emosies en kweek vrees of afguns by hom/haar ten einde mense te polariseer en verdeeldheid onder broeders en susters te bewerk.

Christene kies anders – ons kies hoop; daarom verkondig en kultiveer ons woorde ook hoop waardeur vrede en samewerking nagejaag word.

Spreek lewe: ’n geestelike keuse in moeilike tye

In moeilike tye is dit maklik om negatief te raak, maar die Skrif daag ons uit om:

  • sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees (Matt. 5:13-14)
  • nie te kla nie (Fil. 2:14-16)
  • ander se laste te dra (Gal. 6:2)

’n Positiewe en dankbare ingesteldheid is nie naïef nie; dit is geloof. Dit is gegrond in die oorwinning van Christus. Wanneer ons lewe spreek:

  • bou ons verhoudings
  • bring ons hoop
  • verheerlik ons God

Vergifnis: die sleutel tot digitale gesondheid

Christene vergewe mekaar en ook ons vyande.

Sosiale media is ’n plek van misverstande, oordrewe reaksies, harde woord en die wil om reg te wees, maar die Christen hou nie boek van die kwaad nie, kies om te vergewe en herstel verhoudings.

Vergifnis is daarom nie swakheid nie; dit is krag. Dis ‘n dissipline waartoe die Here ons oproep. Dis ‘n dissipline wat die siklus van konflik breek.

In Mattheus 6:14-15 sê Jesus: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

Plaas daarom inhoud wat opbouend is (selfs met terugvoer), fokus om oplossings te bied en nie net te kla nie; doen dit alles uit ‘n gees van dankbaarheid teenoor die Here.

Gedagtes vorm woorde

Soos wyslik gesê: “Die siel word geverf deur die gedagtes.” Wat jy inneem, bepaal wat jy uitdruk.

As ons voortdurend negatiewe inhoud lees of onsself met negatiewe praatjies ophou, voed dit woede en verdeeldheid in ons gemoed en gedagtes en sal dit ook in ons woorde tot uitdrukking kom.

Jakobus waarsku: “As iemand… sy tong nie in toom hou nie… sy godsdiens is tevergeefs.” (Jakobus 1:26)

Maar as ons onsself deurgaans vul met God se Woord, die waarhede daarvan bepeins, die genadegawes in ons eie lewe raaksien en werklik vanuit daardie oorvloed dankbaar lewe, sal ons woorde lewe bring.

Ware geloof kry uitdrukking in selfbeheersing, diens aan ander en ‘n daadwerklike begeerte en strewe om onder uitdagende omstandighede rein op te tree.

Ons kan daarom ook sê dat sosiale media juis ook die toets van ons geloof is. Borrel daar uit dieselfde fontein se oog vars en bitter water? (Jakobus 3:11-12)

Getuienis in die digitale wêreld

Uiteindelik is ons aanlyn teenwoordigheid ook ’n getuienis. Mense sien hoe ons reageer, praat en ander behandel. As ons bely dat ons gelowiges is, hoe verteenwoordig ons ons Koning?

Elke dag, elke plasing, elke woord is ’n keuse. Ons kan lewe of dood spreek, verhoudings bou of afbreek en hoop kultiveer of vrees aanblaas.  

Maar as Christene kies ons dankbaarheid vir God se oorvloed bo afguns, nederigheid bo trots en vergifnis bo bitterheid, want uiteindelik bly:

Geloof, hoop en liefde.

En deur ons woorde – ook aanlyn – kan ons deel hê aand God se werk om mense op te stig, gemeenskappe te versterk, en lig te bring in ’n donker wêreld.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *