Oneerlikheid as hoeksteen van ons geldstelsel

by | Oct 31, 2025 | Ekonomie, Politiek

Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie. Julle moet ’n regte weegskaal hê, regte weegstene, ’n regte efa en ’n regte hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.[1]

Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.[2]

Die oorsprong van geld

Alvorens ons kan praat van “eerlike-” of “oneerlike geld”, is dit belangrik dat ons verstaan hoe geld in die eerste plek ontstaan het.

Die Oostenrykse ekonoom, Carl Menger (1840-1921), teoretiseer in sy Principles of Economics (1871), dat geld spontaan na vore kom uit mark aktiwiteite, en dat vryemarkgeld na vore kom uit kommoditeite.[3] Ons kan dit aan die hand van die volgende voorbeeld probeer verduidelik:

Gestel ons is terug in die dae van primitiewe ruilhandel. Ek is ‘n appelboer, jy ‘n skaapboer en Jan is ‘n mielieboer. Ons kom gereeld by die markplein bymekaar om produkte uit te ruil. Op grond van ons onderskeie persoonlike voorkeure, stel ons spoedig ‘n ruilprys vas. Hoeveel appels vir ‘n kilogram skaapvleis, hoeveel mielies vir ‘n kilogram skaapvleis en hoeveel mielies vir hoeveel appels. Hierdie proses skep dan die probleem wat bekend staan as die “dubbele toeval van benodighede”. Maw ek kan slegs by Jan mielies koop as hy appels soek en hy kan slegs by my appels koop as ek mielies wil hê. As hy eerder skaap wil hê, sal ek eers my appels by jou vir skaapvleis moet verruil en dan kan ek die skaapvleis vir sy mielies verruil.

Menger se teorie meen dat die vrye mark met die verloop van tyd self ‘n oplossing aan hierdie verskynsel sou bied. Met tyd sou ruilhandelaars begin besef dat sekere kommoditeite, weens sekere inherente eienskappe daarvan en die wye aanvraag daarvoor, baie effektiewe indirekte ruilmiddels is. M.a.w. in plaas daarvan om my appels direk vir mielies te verruil, verruil ek eers my appels vir hierdie kommoditeit en daarna verruil ek dit vir mielies. In die geskiedenis het verskeie kommoditeite[4] hierdie indirekte rol vertolk, maar oor al die eeue was dit hoofsaaklik goud en silwer wat hulself as uitstekende indirekte ruilmiddels bewys het.

Hierdie indirekte ruilmiddel, is wat ons vandag geld noem. In kort kan geld as die mees bemarkbare kommideiteit beskryf word.[5]

Papiergeld as ruilmiddel het sy ontstaan gehad, nie as beoogde indirekte ruilmiddel nie, maar as ‘n vorm van “stoorkwitansie” vir indirekte ruilmiddels. Aangesien goud en silwer waardevol was, is dit by ‘n bank vir bewaring teen ‘n fooi gestoor. Die bank het dan ‘n kwitanise as bewys van die hoeveelheid goud of silwer jy in bewaring by hulle het, uitgereik. Die gebruik het dan verder ontwikkel dat hierdie kwitansies onderling uitgeruil is. Eerder as om eers die goud te gaan trek en dan die goud as betaling aan te bied, is die stoorkwitansie bloot aan die verkoper oorhandig, waarna die verkoper self die goud kon gan trek wanneer dit benodig word. Netsoos die papierbewys dat jou kerkpak by die droogskoonmaker ingehandig is, het die papiergeld geen inherente waarde gehad nie, die enigste waarde wat dit gehad het, was die waarde van die item wat dit veronderstel is om te verteenwoordig. So ook is ‘n droogskoonmakerskwitansie vir ‘n duur Italiaanse snyerspak meer waardevol as die kwitansie vir ‘n Ackermanspak, ten spyte van die feit dat dit deur dieselfde skoonmaker op dieselfde soort papier uitgereik is.  

Vandag kan ons vyf basiese eienskappe van geld lys, geld is:

  1. Onderverdeelbaar
  2. Draagbaar
  3. Deugdelik/duursaam
  4. Herkenbaar
  5. Skaars (met ‘n hoë waarde in verhouding tot volume en gewig)[6]

Oneerlike geld

In die dae wat egte goue en silwer munte as geld gebruik is, sou konings en prinse van hul onderdane steel deur die goud- of silwerinhoud in hul munte te verlaag.[7] So dan en wan sou ‘n nuut ingesweerde monarg ‘n edik uitvaardig dat alle ou munte by die staatsmunt ingehandig word, sodat nuwe munte met sy/haar kop op, uitgereik kon word. So sou die monarg dan ander goedkoper metale by die goud voeg en die goudinhoud van elke munt verlaag. In plaas van 100% suiwer goud vir elke munt, sou die munt nou slegs 95% suiwer wees en sou die monarg die ander 5% vir hom/haarself hou.[8]

In die tyd wat stoorkwitansies of papiergeld begin gebruik is, sou die banke tipies bedrog pleeg deur valse kwitansies uit te reik vir goud of silwer wat nie in hul besit was nie. So sou die bankiers, dienste en goedere kon bekom deur slegs ‘n ongerugsteunde kwitansie uit te reik.[9] Die bedrog sou ongesiens verbygaan solank as wat daar nie te veel kwitansies op een slag vir goud teruggeruil moet word nie. Elke nou en dan sou dit egter gebeur dat die burgery snif in die neus kry dat een of ander bankier oneerlik is en dan sou kliënte in hul massas hul kwitansies vir goud kom terugruil (“bank run”). Die tekort aan goud in voorraad sou ontbloot word, baie onskuldige kliënte sou baie geld verloor, die bank sou insolvent verklaar word en die bankier van bedrog aangekla word.  Om hierdie risiko vir banke se kliënte te beperk, is Reserwebanke gestig, wat vir die goudtekort sou instaan, sou die bank nie genoeg goudreserwes in voorraad hê nie. Alhoewel goed bedoel, was een van die onbedoelde gevolge van reserwebanke dat dit die bedrieglike gedrag vererger het deurdat dit nou ook beskerming aan die bedrieglike bankiers gebied het. Die dag van rekenskap is vir die bankier uitgestel en hy het nou ‘n “get out of jail free” kaart gekry.

Hedendaagse geld

Tot en met die Tweede Wêreldoorlog het goud ‘n sleutelrol in geld gespeel. Onder die goudstandaard was elke geldeenheid afsonderlik deur goud gerugsteun en is internasionale rekenings met goud betaal.

Met die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog is geskarrel om tot ‘n vergelyk te kom wat nie dieselfde effek as die Versailles-verdrag sou hê nie.[10] Een van die resultate was die Bretton Woods geldstelsel (1946). Hiervolgens is die Internasionale Monetêre Fonds asook die Wêreldbank in die lewe geroep en sou die Amerikaanse dollar alleen teen ‘n vasgestelde koers deur goud gerugsteun ($35 vir 1 Oz goud) word. Al die ander geldeenhede is toe teen ‘n vaste wisselkoers deur die dollar gerugsteun en internasionale rekenings sou met dollars betaal word. Ander lande het egter hul geldeenhede se wisselkoerse met die dollar eensydiglik aangepas, terwyl hul reserwebanke by magte was om dollars vir goud verruil. Namate meer en meer dollars uit die VSA gevloei het en die VSA se goudvoorraad ook so te sê uitgeput geraak het, totdat dit nie meer vir die VSA moontlik was om goud teen voorafvasgestelde koers van $35/Oz te lewer nie. Op 15 Augustus 1971 het Richard Nixon aangekondig dat die VSA nie meer goud sal verkoop nie en in 1973 is die Bretton Woods stelsel finaal beëindig.[11]

Sedertdien word geen geldeenheid meer deur goud gerugsteun nie. Elke geldeenheid is vryswewend (“floating”), terwyl die dollar die wêreld se de facto reserwe geldeenheid is en alle internasionale handel in dollars plaasvind. Enige poging om die dollar te omseil (of dit nou euros vir olie – Irak, of goud vir olie – Iran, is) haal die gramskap van die VSA en al haar invloed en militêre mag op die hals.[12]

Alle tradisionele reëls m.b.t. geld het nou drasties verander en gedrag wat voorheen as bedrog bestempel was, is nou die norm. Die vervalsing van kwitansies, is nou die praktyk deurdat die wêreld se reserwebanke (in die vorm van kwantitatiewe verligting[13]) en ook gewone kommersiële banke (in die vorm van fraksionele reserwe bank aktiwiteite[14]) bloot geld uit die niet kan skep, terwyl dit mense-arbeid en werk as teenprestasie is, wat dit waarde gee. Netsoos in die film The Matrix, is die wêreld se monetêrele stelsel – en by implikasie ook die hele finansiële stelsel – bloot ‘n illusie wat deur misleiding en die mensdom se onkunde in stand gehou word.

As u al ooit gewonder het waarom die rand (of enig ander geldeenheid) soveel van sy waarde verloor het en waarom die uitkeerpolis se uitkeerbedrag nou soveel minder vir u kan doen – moenie verder as die bestaande geldstelsel kyk nie. Die inflasionêre aard van alle geldeenhede straf uit die staanspoor diegene wat geld spaar en vergoed diegene wat toegang tot goedkoop krediet het.

Mike Maloney het ‘n baie insiggewende reeks op Youtube gepublisser, getiteld “The Hidden Secrets of Money”[15]. Dit word ten sterkste aanbeveel dat u al vyf episodes kyk om ‘n goeie geheelbeeld van die stelsel te kry.

Teen die hele wêreld vry

In ‘n 2014 uitsending van Robinson Regstreeks op KykNet, het Cornelius Janse-van Rensburg van Afrisake met ‘n afgevaardigde van die EFF oor die grondkwessie debatgevoer.[16] Die EFF-afgevaardigde het telkens genoem hoe moeilik dit vir die gemiddelde swart persoon is om uit die spiraal van armoede te ontsnap en grond te bekom. Dit is baie belangrik dat ons die werklikheid van hierdie verskynsel begryp en die rol van inflasie hierin verstaan, juis omdat Afrikaners nou verantwoordelik gehou word vir een van die gevolge van ‘n inherent oneerlike geldstelsel.

Wanneer ons weer die vierde strofe van Die Stem uit volle bors sing en ons uiter die woorde “Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry”, kan ons gerus ook hieraan dink, of, wanneer ons weer rondom die braaivleisvuur gesels oor ons visie van ‘n vrye Afrikanervolk, is dit baie belangrik dat ons ook hierdie realiteit in ag neem en ons volksgenote hiervan inlig.

As Christene is dit nie net ons plig om die leuen in al sy verskillende gedaantes te besweer nie, maar ook die Waarheid uit te dra en as alternatief te promoveer. Juis daarom sal enige stryd om vryheid, sonder ‘n stryd om ook terug te keer na eerlike kommoditeitgeld, hol en sinneloos wees, aangesien ons dan slegs die reg sou verwerf het om Afrikaner skuldslawe van die leuen genoem te word.

In my volgende artikel sal ek aantoon hoe die huidige geldstelsel ook bydra tot verarming, gebruik word om sinnelose oorloë te finansier en ook ‘n materialistiese verbruikerskultuur in die voorheen Christelike Weste help skep het.


[1] Levitikus 19:35 en 36, 1953 Afrikaanse vertaling

[2] Spreuke 13:11, 1953 Afrikaanse vertaling

[3] Bankwese en die Staat: ‘n Korrupte verhouding, Thorsten Polleit

[4] Die Romeine het aan hul soldate en amptenare ‘n souttoelaag (“salarium”, vandaar die woord salaris) gegee, terwyl Marco Polo ook geskryf het van sout wat as geldmiddel in een van die Sjinese streke gebruik is.

[5] Honest Money: The Biblical Blueprint for Money & Banking, Gary North

[6] Op. cit. 5

[7] Dit is gedoen deur eerstens ‘n staatsmonopolie op die munt van geld te plaas. Sien in hierdie verband What has government done to our money? Murray N Rothbard

[8] http://en.wikipedia.org/wiki/Methods_of_coin_debasement

[9] http://www.financial-planning-techniques.com/How-Currencies-are-Debased.html

[10] Die feit dat Duitsland al die skuld van al die partye tot die Eerste Wêreldoorlog moes dra, was seker die een mees prominente oorsaak van die Tweede Wêreldoorlog.

[11] http://wiki.mises.org/wiki/Bretton_Woods_System

[12] Deurdat geen geld meer deur enige kommoditeit gerugsteun is nie en alle internasionale handel in dollar plaasvind, is die VSA in die bevoorregte posisie dat hulle hul internasionale skuld kan betaal deur bloot nog dollars te druk.  

[13] Kwantitatiewe verligting, oftewel “Quantitative Easing”, is die blote druk van biljoene ekstra dollars, ponde, euros of rande om, so word ons vertel, die ekonomie te “stimuleer”. Uit die aard van die saak is die banke die besighede wat heel eerste die nuwe geld ontvang, terwyl Jan Publiek eers die voordeel van die nuwe geld ontvang wanneer alle pryse alreeds deur die ekstra geld (inflasie) opgestoot is. Hierdie is ‘n slinkse vorm van sakkerollery wat rykdom van die armes na die banke en groot korporasies met politieke konneksies kanaliseer.

[14] Fraksionele reserwe bank aktiwiteite, oftewel “fractional reserve banking”, is die heel wettige gebruik van kommersiële banke om slegs ‘n persentasie (10% tot 20%) van enige deposito in reserwe te hou, terwyl die res uitgeleen word. Sou ek bv. R100 by my bank deponeer, sal my bank geregtig wees om ten minste R80 uit te leen. My bankbalans toon egter steeds R100 op deposito en ek is heeltemal by magte om dit weer te onttrek. Die R80 wat uitgeleen is, is effektiewelik splinternuwe geld wat self deur die bank uit die niet geskep is. Elke keer wat u op u kredietkaart iets koop, ‘n motorlening aangaan of ‘n verband vir die koop van ‘n huis uitneem, word splinternuwe geld deur die bank uit die niet geskep.

[15] https://www.youtube.com/watch?v=iFDe5kUUyT0

[16] https://www.youtube.com/watch?v=zfIEhjEG8NQ

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *