Paasfees is nie net ’n herdenking van ’n gebeurtenis in die verlede nie; die betekenis van Paasfees behoort die hartklop van die Christen se daaglikse lewe te wees. Vir Oraniërs, wat doelbewus probeer bou aan ’n gemeenskap met ’n duidelike roeping, bring Paasfees ’n besondere boodskap van sekerheid, kalmte en deursettingsvermoë. Hierdie sekerheid lê nie in onsself of in ons volk nie, maar in ons Koning: Jesus Christus.
Die opgestane Christus verklaar in Matteus 28:18:
“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”
Hierdie waarheid verander alles. Dit beteken dat die Een wat ons dien nie verslaan is nie, maar ’n oorwinnaar is. Hy regeer nou reeds – oor elke regering, elke kultuur, elke volk, en ook oor Orania. Wanneer ons dit werklik glo, bring dit ’n diep kalmte. Ons hoef nie in vrees te leef nie. Ons hoef nie paniekerig te bou nie. Ons kan met vertroue en volharding werk, want ons Koning is in beheer.
Nie uitverkore nie, maar begenadig
Dit is belangrik om dit duidelik te stel: die Afrikanervolk is nie ’n uitverkore volk in die sin wat Israel was nie. Ons staan nie voor God omdat ons spesiaal is of op grond van ons eie meriete nie. Inteendeel – ons is ’n begenadigde volk met ‘n spesifieke roeping.
Die apostel Paulus gebruik in Romeine 11 die beeld van ’n olyfboom om hierdie waarheid te verduidelik. Hy sê dat gelowiges uit die nasies soos wilde olyftakke is wat ingeënt is op die mak olyfboom van God se verbondsvolk. Dit is slegs deur Christus dat ons deel kan hê aan God se beloftes.
Hierdie waarheid word verder versterk deur Jesus se woorde in Johannes 15:5:
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Ons identiteit lê dus primêr in Christus. Solank ons in Hom bly, deel ons in die rykdom van God se beloftes – ook dié wat Hy aan Abraham gemaak het. Maar sonder Hom is al ons pogings tevergeefs.
Geloof vra gehoorsaamheid
Ware geloof is nooit bloot ’n gevoel of ’n belydenis met die mond nie. Dit vra gehoorsaamheid en opoffering. Dit vra dat ons die self kruisig.
Paasfees herinner ons juis daaraan: Christus het Homself verneder tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Hoe kan ons dan nog vashou aan trots?
Elke sweempie van selfverheffing moet uit ons lewens uitgeroei word. In die plek daarvan moet dankbaarheid groei. Dankbaarheid vir genade wat ons nie verdien het nie. Dankbaarheid dat ons deel gemaak is van God se familie.
As Orania gebou word uit trots – trots op eie prestasie, trots op kultuur, trots op volk – dan bou ons op sand. Maar as dit gebou word in nederigheid, as ’n daad van gehoorsaamheid aan God, dan staan dit op ’n rots.
Bou tot eer van God
Die vraag is dus nie net of ons bou nie, maar waarom ons bou.
As ons Orania wil bou om ons Godgegewe roeping te vervul, dan moet dit nie wees tot ons eie eer of selfs ons volk se eer nie. Dit moet wees tot God se eer.
Dit beteken prakties dat diensbaarheid sentraal moet staan. Eerstens diensbaarheid aan God — om Sy wil te soek en te doen. Dan daarnaas diensbaarheid aan mekaar en ander mense – ook dié buite ons gemeenskap.
’n Gemeenskap wat werklik God verheerlik, is een wat dien.
Bou met troffel én swaard
Maar ons moet ook realisties wees. Om getrou aan God te leef en te bou, bring teenstand.
In die tyd van Nehemia moes die volk Jerusalem herbou terwyl hulle bedreig is deur vyande. Nehemia 4:17 beskryf dit so:
“…die wat aan die muur gebou het… met die een hand die werk verrig en met die ander hand die wapen vasgehou.”
So is dit ook vandag. Ons bou, maar ons bou nie naïef nie. Ons weet daar sal aanvalle wees: ideologies, kultureel, selfs deur wetgewing.
Ons troffel is ons arbeid , ons bouwerk, ons instellings, ons gemeenskap. Maar ons swaard is die Woord van God. Soos Efesiërs 6:17 sê:
“…en neem aan die swaard van die Gees — dit is die woord van God.”
Dit is nie met vleeslike wapens dat ons stry nie, maar met waarheid.
’n Stad op ’n berg
Die Here roep ons nie om weg te kruip nie. Hy roep ons om lig te wees.
Jesus sê in Matteus 5:14:
“Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”
Orania kan nie – en moenie – “onder die radar” bly nie. In ’n tyd van morele verwarring en geestelike duisternis moet ons ’n duidelike getuienis wees.
Dit vra moed. Dit vra dat ons nie soos die jong Petrus sal wees wat vir Jesus verloën uit vrees vir mense nie. Dit vra dat ons soos die meer ervare Petrus sal wees – bereid om te ly vir die Naam van Christus.
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie
Paasfees herinner ons ook aan die aard van ons stryd. Paulus skryf in Efesiërs 6:12:
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Dit verander ons perspektief. Ons vyand is nie mense nie, nie regerings, instellings of opponente nie. Die werklike stryd is geestelik.
En hierdie stryd word nie gewen soos die vlees dit sou wou voer nie – deur brute krag, manipulasie of selfverheffing nie. Dit word gewen deur gehoorsaamheid, waarheid en geloof.
Toe Christus aan die kruis gehang het, het dit soos ‘n nederlaag gelyk. Maar in werklikheid was dit die grootste oorwinning in die geskiedenis. Daar, aan die kruis, het Hy die magte van die duisternis oorwin.
Die Engel van die Here veg vir ons
Ons hoef nie hierdie stryd alleen te voer nie. Die Here self veg vir Sy volk.
In die Ou Testament sien ons hoe die Engel van die Here – ’n verskyning van Christus voor Sy menswording – vir God se volk stry. Vandag is daardie selfde Here ons Koning.
Maar daar is ’n belangrike voorwaarde: gehoorsaamheid.
Ons mag nie uit trots dink dat ons hierdie stryd op ons eie kan voer nie. Ons rol is nie om die oorwinning te bewerk nie, maar om getrou te wees. Die oorwinning behoort aan die Here.
Leef die roeping onbeskaamd
Daar is rede om te glo dat die Afrikanervolk in Afrika geplaas is met ’n doel: om mede-bouers aan God se Koninkryk op hierdie kontinent te wees. Maar daardie roeping moet reg verstaan word.
Dit is nie ’n roeping tot selfverheffing nie, maar tot diens.
Daarom moet ons nie stilbly uit vrees vir dreigemente of druk nie; of dit nou van instellings, wetgewing of publieke menings kom. As dit by Bybelse waarheid kom, moet ons getrou bly.
Maar altyd – altyd – in nederigheid, waarheid en liefde.
Die saligsprekinge: ons padkaart
Jesus gee vir ons ’n duidelike riglyn vir hoe ons moet leef in Sy Koninkryk. In Matteus 5:3–10 lees ons:
“Salig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”
Hierin lê die wysheid vir Orania. Nie in politieke slimheid of menslike strategie nie, maar in hierdie omgekeerde koninkrykswaardes.
Slot: Paasfees gee moed
Paasfees herinner ons dat die graf leeg is. Christus leef. En omdat Hy leef, het ons hoop.
Dit gee vir ons die sekerheid om aan te hou bou. Dit gee vir ons die kalmte om nie deur vrees oorweldig te word nie. Dit gee vir ons die deursettingsvermoë om getrou te bly – selfs wanneer dit moeilik raak.
Mag Orania ’n plek wees waar hierdie waarheid sigbaar word:
’n Gemeenskap wat nie op homself vertrou nie, maar op Christus.
’n Gemeenskap wat nie sy eie eer soek nie, maar God s’n.
’n Gemeenskap wat bou – met troffel en swaard – tot eer van die Koning wat reeds oorwin het.
Want Hy het waarlik opgestaan… en Hy regeer!



0 Comments