In die bladsye van 1 Samuel staan twee konings in skerp kontras. Saul, Israel se eerste gesalfde heerser, het ’n offer gebring sonder om vir die profeet Samuel te wag en het sy dinastie verloor. Dawid, ’n voortvlugtige, het die heilige toonbrode geëet wat vir priesters gereserveer was en geen teregwysing ontvang nie – inteendeel, Jesus het later die daad geprys. Waarom die verskil? God se reaksie was nie arbitrêr nie. Dit het voortgevloei uit sy onveranderlike karakter: heilig, verhoudingsgerig en barmhartig, maar nooit bereid om sy heerlikheid en heiligheid prys te gee nie. Dit is nie ‘n verhaal van goddelike buie of kleinlikheid nie. Dit is ’n meesterklas in hoe die Here die hart weeg (1 Samuel 16:7), die motief agter elke handeling ondersoek, en die verbondsband in stand hou wat ware gehoorsaamheid definieer.
Hierdie week ondersoek ons hierdie twee gebeurtenisse stap vir stap. Ons sal sien hoe God se wette sy heiligheid openbaar, hoe die verbondslewe genade met eerbied verweef, en hoe die bedoeling agter ons optrede belangriker is as oppervlakkige wetsnakoming.
Ons sal sien hoe Jesus Dawid se verhaal op die Sabbat toepas, wettisisme afbreek, en praktiese wysheid vir menslike verhoudings uitlig. Uiteindelik sal ons vra wat dit vir ’n gemeenskap soos Orania beteken – hoe om ’n volk onder Christus se wet te wees wat verhoudingsgerig, barmhartig en vasbeslote is om God se heiligheid te beskerm.
God se karakter, heiligheid en die doel van die Wet
Aan die hart van albei vertellings klop God se heiligheid. “Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig” (Levitikus 19:2). Die wet was nie ’n toevallige lys reëls nie; dit was ’n portret van wie God is – rein, regverdig, barmhartig en soewerein. Elke gebod het na sy karakter gewys en Israel geleer om dit te weerspieël.
Die wet oor die toonbrode (Levitikus 24:5-9) het twaalf vars brode vir die priesters in die tabernakel gereserveer. Dit het God se voortdurende teenwoordigheid en voorsiening gesimboliseer. Om die ark aan te raak sonder draaghoute (Numeri 4:15) of om vreemde vuur te bring (Levitikus 10:1-3) het die doodstraf meegebring omdat hierdie dade die heilige as alledaags behandel het. Saul se ongeoorloofde offer by Gilgal (1 Samuel 13:8-14) was nie bloot laat administrasie nie. Dit was ’n koning uit Benjamin wat hom aanmatig om ’n Levitiese priesterlike rol te vervul, gedryf deur vrees dat sy leër sou dros. Samuel se uitspraak was duidelik: “Jy het die gebod van die HERE jou God nie onderhou nie… nou sal jou koningskap nie standhou nie” (1 Samuel 13:13-14). God het Saul se lyn verwerp omdat die daad ’n hart openbaar het wat menslike ambisie en aansien bo God se eer en tydsberekening stel.
Ussa se tragedie in 2 Samuel 6:6-7 onderstreep dit verder. Die ark – simbool van God se teenwoordigheid op aarde – is op ’n Filistynse wa geskuif. Ussa het sy hand uitgesteek om dit te stut en het onmiddellik gesterf. Die opdrag was duidelik: net die Kehatiete Leviete moes dit op draagstokke dra; geen aanraking nie. Selfs “behulpsame” hande kon nie God se teenwoordigheid soos meubels behandel wat gered moes word nie. God se heiligheid vereis eerbied, nie aanmatiging nie. Hierdie voorvalle wys die doel van die wet: om verhouding met ’n heilige God te beskerm, nie om mense met meganiese kontrolelysies te belas nie.
Verbondsverhouding: genade en barmhartigheid
God se wette bestaan binne ’n verbond, verseël deur bloed en belofte. Hy het Israel uit Egipte verlos nie omdat hulle dit verdien het nie, maar omdat Hy hulle liefgehad het (Deuteronomium 7:7-8). Die wet het hulle daarna geleer hoe om as sy eiendomsvolk te leef. Genade was nie ’n nagedagte nie; dit was in die stelsel ingeweef.
Dawid se toonbrood-oomblik (1 Samuel 21:1–6) illustreer hierdie verbondsbarmhartigheid perfek. Op die vlug vir Saul, honger en ongewapen, kom Dawid by Nob aan. Die priester Agimeleg het net die heilige brood gehad. Nadat hy seremonieel reinheid bevestig het, het Agimeleg dit gewillig gegee. Dawid het nie die heiligdom bestorm of dit geëis nie; hy het dit ontvang as voorsiening in ’n lewensgevaarlike situasie. Geen weerlig het geslaan nie. Geen profeet het hom veroordeel nie. Waarom? Die daad het uit noodsaak binne die verbond voortgevloei. Dawid het nie sy gesag as gesalfde misbruik om dit wat die Here vir die priesters gereserveer het, vir homself in sy benarde posisie in te palm nie. Die priesters – vir wie die toonbrode gereserveer was – het dit vrywillig aan Dawid beskikbaar gestel om hom uit sy benarde situasie te help.
Vergelyk dit met Saul. Sy verbondsrol was duidelik: gehoorsaam die direkte opdrag van die profeet (1 Samuel 10:8). Om vir Samuel te wag was nie opsioneel nie. Saul se vrees vir mense en sy hunkering na aansien, het sy vertroue in God se woord oortref. Later, met die Amalekiete (1 Samuel 15), het hy die beste vee gespaar “om te offer” – sy blatante verontagsaming van die Here se opdrag, versluier hy met edele selfregverdiging. Samuel se antwoord sny tot op die been: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer… want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery” (1 Samuel 15:22–23). Saul se hart het reeds van verbondsvertroue afgedwaal.
Dawid het later swaar gesondig met Batseba, maar berou getoon en daar was herstel (Psalm 51). Saul het homself geregverdig, blaam verskuif en alles verloor. Barmhartigheid werk binne ’n verbondsverhouding; dit verskoon nooit ’n trotse hart wat God se posisie binne die verbond uitdaag nie.
Motiewe: Dawid se nood en Saul se aanmatiging
Hier lê die kern van die verskil: God kyk ook verby die daad na die waarom.
Saul het uit vrees en selfbehoud opgetree, sonder om op die Here se tydsberekening te wag en daarop te vertrou. Sy leër was besig om te verstrooi. “Ek het my dus gedwing,” het hy vir Samuel gesê (1 Samuel 13:12). Dit beteken dat Saul meer op die getalle van sy leër as op God vir die oorwinning vertrou het. Die koning het die priesterlike rol oorgeneem om mag te behou, nie om God te dien nie. Dit was opstand vermom as noodsaaklikheid.
Ussa se motiew het op papier beter gelyk – “die beeste het gestruikel” (2 Samuel 6:6), maar die konteks openbaar aanmatiging. Die hele optog het God se vervoerinstruksies van draaghoute geïgnoreer. Albei het op hul eie manier die heilige orde aangetas.
Dawid se motief was suiwer oorlewing in diens van God se roeping. Gesalf maar vervolg, het hy kos gesoek vir hom en sy manne sodat hulle kon voortgaan in God se doel. Hy het nie die brood gekommandeer nie; die Levitiese priester het dit gegee na deeglike ondersoek. Geen magsvergryp het plaasgevind nie. Die Here se eer is nie aangetas nie. Jesus het dit later bevestig: die daad was tegnies “nie geoorloof nie” en tog sonder skuld vanweë honger en nood (Matteus 12:3–4) en Agimeleg wat die toonbrode vrywillig beskikbaar gestel het. Motief ontbloot die verskil: Dawid het God en sy priester vertrou in swakheid; Saul het meer op homself en die krag van sy leër vertrou.
Jesus pas die toonbrood op die Sabbat toe
Eeue later het Jesus terugverwys na Dawid se geval om sy dissipels te verdedig. Terwyl hulle op die Sabbat deur graanlande geloop het, het hulle are gepluk en geëet – tegnies “werk” volgens die Fariseërs se reëls (Matteus 12:1-8, Markus 2:23-28 en Lukas 6:1–5). Die Fariseërs het Jesus en sy dissipels beskuldig dat hulle die wet oortree.
Jesus se antwoord was meesterlik: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was…?” Hy herinner hulle dat die toonbrode in ’n noodsituasie gegee is, en voeg by dat priesters die Sabbat in die tempeldiens “ontheilig” en tog onskuldig is. Met aanhaling uit Hosea 6:6 sê Hy: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.” Die slotsom: “Die Seun van die mens is Here ook van die Sabbat” (Matteus 12:8). Jesus het nie die wet afgeskaf nie; Hy het die hart daarvan herstel. Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie (Markus 2:27). Dawid se voorbeeld bewys dat werklike nood en barmhartigheid seremoniële reëls kan oortref sonder om heiligheid te vernietig. Jesus, as die groter Dawid en tempel, beliggaam hierdie verhoudingsgesag.
Organies en verhoudingsgerig; nie meganies en wetties nie
Om volgens God se wet te leef is nooit ’n koue outomaat van reëls nie. Die Fariseërs het 39 kategorieë van verbode “werk” rondom die Sabbat gehad (Misjna Sjabbat 7:2) en rus in ’n las verander. Are pluk het oes geword, dit vryf het dors geword. Hulle het die punt gemis. Jesus noem hul benadering swaar laste (Matteus 23:4) en waarsku dat dit skynheilig is om muggies uit te sif maar kamele in te sluk (Matteus 23:24).
Die Fariseërs het hulself aangematig om God se Wet te misbruik ten einde hulle eie gesag en aansien te bevestig, terwyl hulle die Wet van alle genade en barmhartigheid uitgehol het.
Ware gehoorsaamheid is organies – soos ’n wingerdstok en lote (Johannes 15). Dit vloei uit liefde vir God en loop oor in liefde vir die naaste (Matteus 22:37–40). Die wet openbaar God se karakter sodat ons daagliks met Hom kan wandel. Dawid het so geleef. Saul nie.
Wettisisme vra: “Waarmee kan ek wegkom? ” of “Hoe kan ek my optrede regverdig?” of “Waarvan kan ek my broer of vyand beskuldig?”
Verhouding vra: “Hoe kan ek die Heilige God van hemel en aard, wat my liefhet, eer?” God se standaard bly: vertrou op Hom, nie uiterlike vertoning nie.
Toepassing van God se Standaard op Menslike Verhoudings
As God motiewe weeg en barmhartigheid betoon sonder dat dit sy heiligheid prysgee, moet ons ook so leef. In gesinne, kerke en werkplekke moet genade oorvloedig wees, maar nooit ten koste van waarheid of God se eer nie. Wanneer iemand in nood verkeer (soos Dawid se honger), gee die brood. Wanneer iemand aanmatig of toe-eien (soos Saul of Ussa), spreek die waarheid in liefde. Efesiërs 4:15 roep ons om “die waarheid te betrag in liefde.” Kolossense 3:12-13 dring aan op innige barmhartigheid, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid, terwyl ons mekaar vergewe soos die Here vergewe het.
Ons verlaag nooit God se heiligheid om sonde te akkommodeer nie. Tog weerhou ons nooit barmhartigheid van die gebroke wat in ware nood kom nie. Hierdie balans voorkom sowel losbandigheid as wettisisme. Dit bou gemeenskappe waar heiligheid beskerm word en genade vrylik bewys word.
Orania en Christus se Wet: verhoudingsgerig, barmhartig en heilig
Orania behoort ‘n tuiste te wees vir hierdie waarhede. Sy stigters het kulturele behoud, selfstandigheid en Christelike waardes gesoek te midde van ’n onstuimige land. Die Skrif roep so ’n volk om onder Christus se wet te organiseer – nie as ’n rigiede teokrasie wat elke jota en titteltjie afdwing nie, maar as ’n verbondsfamilie wat God se hart weerspieël.
Eerstens, erken en vrees God se heiligheid. Orania se reëls, grondbesit, Afrikaanse taal en arbeidsbeleid mag nooit afgode word wat Christus se barmhartigheid en genade verplaas nie. Gemeenskapsleiers moet nederig wees en nooit God se heerlikheid toe-eien soos Saul nie. Besluite oor gemeenskapsnorme (werk, aanbidding, welsyn) moet uit gebed en Skrifonderskeiding vloei, nie uit blinde dwang nie. Gedwonge oppervlakkige reëlnakoming dray by tot ‘n hartelose gemeenskap waar reëls streng op ander toegepas word, terwyl ekself met tegniese argumentering daaraan wil ontkom.
Tweedens, leef verhoudingsgerig. Die Sabbatbeginsel geld: strukture bestaan vir mense se welstand. Wanneer ’n gesin honger of in krisis is, gee die “toonbrood”- praktiese hulp, vergifnis, tweede kanse – sonder om orde te vernietig. Barmhartigheid moet oorvloedig wees: skuldverligting, werksopleiding, sorg vir bejaardes. Tog verskoon genade nooit opstand teen God se morele wet of gemeenskapsverbond nie.
Derdens, verwerp wettisisme. Orania se sukses sal nie danksy dikker reëlboeke kom nie, maar uit harte wat deur die evangelie van Christus verander is. Leer kinders dat gehoorsaamheid uit liefde vir Christus vloei, nie uit vrees vir straf nie. Verwelkom volksgenote wat die visie deel, met evangeliese gasvryheid, terwyl die gemeenskap se unieke roeping bewaar word.
Vierdens, pas die Dawid-Saul-toets op leierskap toe. Kies dienaars wat op God se tyd wag, nie dié wat uit vrees mag gryp nie.
’n Verhoudingsgerigte Orania sou sal ‘n stad op ‘n berg wees: ywerig maar medelydend, ordelik maar genadig, kultureel begrond maar evangelie-gesentreerd. Dit sal God se karakter eer deur lewe, familie en waarheid te beskerm terwyl dit barmhartigheid uitstort oor die moedeloses. In ’n verwarde Suid-Afrika kan die gemeenskap van Orania ook sout en lig wees (Matteus 5:13–16).
Die hart wat God behaag
Dawid het die toonbrode geëet en geleef om Israel se grootste koning te word. Saul het die offer gebring en gesien hoe sy koningskap verdwyn. Die verskil is nie die oortreding self nie, maar die hart en gesindheid agter die oortdreding. God se wette bly verhoudingsgerig – bedoel om ons nader te trek, sy heiligheid te openbaar en ons met genade te vul. Jesus nooi ons almal: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). Nie rus in reëls nie, maar rus in verhouding.
Of dit nou in persoonlike toewyding, gesinslewe, kerk of ’n plek soos Orania is, ons roeping bly dieselfde: wees gehoorsaam uit die hart, betoon barmhartigheid oorvloedig, en behandel nooit die heilige as alledaags nie. God soek steeds manne en vroue na sy hart. Mag ons onder hulle gevind word.



0 Comments