Gedagtes en uitgangspunte rondom die vrye mark

by | Jul 28, 2026 | Ekonomie

Baie mense sê hulle ondersteun vrye markte. Minder mense verstaan egter wat dit werklik beteken. Wat ons gewoonlik sien, is glad nie ’n vrye mark nie, maar ’n stelsel waarin besighede, politici en georganiseerde belangegroepe voortdurend spesiale beskerming teen mededinging probeer beding.

’n Ware vrye mark is ’n stelsel van vrywillige handel onder algemene reëls wat eiendomsreg en kontrakte beskerm. Niemand is geregtig op spesiale terme of voorregte nie. Ondernemings is suksesvol wanneer hulle kliënte beter te bedien as hul mededingers. Wanneer hierdie besighede misluk, bly die skade beperk en kan hulpbronne na beter opsies geallokeer word. Die alternatiewe tot die vrye mark – wat proteksionisme, subsidies, staatsreddings (“bail-outs”) en regulatoriese gunste insluit – lyk op die kort termyn of dit help, maar maak die samelewing op die lang duur stilweg armer en minder veerkragtig.

Verskeie denkers help ons om te verstaan waarom dit so is.

Besighede en denkers werk dikwels teen vrye markte

Milton Friedman het daarop gewys dat twee van die grootste vyande van vrye markte ironies genoeg dikwels sakelui en intellektueles is.

Sakelui lewer graag mooi toesprake oor die vrye mark – totdat mededinging hul eie onderneming begin bedreig. Dan wend hulle hulle tot die regering vir invoertariewe, subsidies, belastingverligting of staatsreddings. Hulle wil graag vryheid vir almal hê, maar beskerming vir hulself. Die werklike wenners van oop mededinging is nie die georganiseerde produsente wat drukgroepe kan bekostig nie, maar gewone burgers en werkers.

By intellektueles en akademici sien ’n mens dikwels die teenoorgestelde patroon. Hulle eis vryheid vir hulself – die reg om sonder inmenging te praat, te skryf en navorsing te doen – maar steun terselfdertyd beperkings op ander mense se ekonomiese keuses. Die rede is eenvoudig: baie van hulle glo dat hulle beter weet. Hulle is oortuig dat hul kundigheid hulle in staat stel om beter as gewone mense se vrywillige handelinge weet wat goed vir die samelewing is.

Friedman het ook ’n treffende verskil uitgewys in die manier waarop mislukkings hanteer word.

Wanneer ’n private onderneming misluk, verloor dit geld en krimp dit uiteindelik of sluit sy deure. Die skade bly beperk. Kapitaal en arbeid word vrygestel en kan elders aangewend word waar dit groter waarde toevoeg.

Wanneer ’n regeringsprogram misluk, is die reaksie gewoonlik presies die teenoorgestelde. Amptenare voer aan dat die program nie genoeg befondsing of genoeg kundigheid gehad het nie. Gevolglik word die program uitgebrei of ’n nuwe staatsinstelling geskep. Mislukte staatsingryping het dus die neiging om eerder uit te kring, as om te verdwyn.

Empatie en die dilemma van die sigbare

Die meeste mense voel opreg mee wanneer ’n bekende onderneming swaarkry of wanneer werkers hul werk verloor. Daardie pyn is werklik en onmiddellik. Die natuurlike reaksie is om die regering te vra om die onderneming teen mededinging of mislukking te beskerm en sodoende die terugslag te versag.

Hierdie reaksie is verstaanbaar. Die perspektief daarvan is egter beperk.

Die mense wat sigbaar ekonomies ly, vorm gewoonlik ’n klein, gekonsentreerde groep wat hul saak duidelik kan illustreer en hul verhaal kan vertel. Die koste van staatsbeskerming word daarenteen gesosialiseer en dun versprei oor miljoene verbruikers wat hoër pryse betaal, werkers in ander bedrywe wat minder geleenthede kry en toekomstige entrepreneurs wat nooit die kans kry om daardie hulpbronne meer produktief aan te wend nie. Meegevoel wat by die sigbare slagoffers ophou, mis die veel groter aantal mense wat op stiller, minder opvallende maniere deur die staatsbeskerming benadeel word.

Wat gesien word en wat nie gesien word nie

Die negentiende-eeuse Franse ekonoom Frédéric Bastiat het vir ons een van die belangrikste hulpmiddels gegee om oor hierdie vraagstuk te dink.

Elke beleid het onmiddellike, sigbare gevolge én langertermyngevolge wat minder opvallend is. Wanneer ’n onderneming beskerm word, is die poste wat behoue bly vir almal sigbaar. Wat ons nie sien nie, is die hoër pryse wat verbruikers betaal, die kapitaal wat in minder waardevolle gebruike vasgevang bly, en die nuwe ondernemings en produkte wat nooit tot stand kom nie omdat daardie hulpbronne nie beskikbaar is nie.

Bastiat verduidelik hierdie beginsel met ’n eenvoudige verhaal.

’n Winkelier se venster word stukkend gegooi. Omstanders sê: “Ten minste sal die glasmaker nou werk hê.”

Dit is wat gesien word.

Wat nie gesien word nie, is dat die winkelier nou sy geld aan ’n nuwe venster moet bestee in plaas daarvan om nuwe skoene te koop, sy onderneming uit te brei of iets anders aan te skaf. Die skoenmaker verloor dus ’n klant. Die samelewing as geheel is uiteindelik armer met een venster. Hulpbronne is bloot gebruik om iets te herstel wat reeds bestaan het, eerder as om iets nuuts te skep.

Presies dieselfde logika geld wanneer die regering ’n mislukte onderneming red. Die sigbare ekonomiese aktiwiteit verberg die onsigbare verliese wat uiteindelik deur die res van die gemeenskap gedra moet word.

Kyk verder en kyk wyer

Henry Hazlitt het Bastiat se insig geneem en dit omskep in ’n eenvoudige praktiese reël: kyk altyd verder as die onmiddellike uitwerking op een groep, en dink ook aan die langtermyngevolge vir alle ander groepe.

Wanneer die regering sekere ondernemings teen mededinging beskerm, is die korttermynvoordele vir die begunstigdes maklik om raak te sien.

Met verloop van tyd raak die hele samelewing egter minder produktief, omdat hulpbronne in minder funksionele of effektiewe gebruike vasgevang bly en die druk om voortdurend te vernuwe en te verbeter verswak. Sukses begin toenemend afhang van politieke bande eerder as van die vermoë om kliënte goed te dien.

Tydsvoorkeur en die neiging om die hede bo die toekoms te verkies

Hans-Hermann Hoppe vestig die aandag op iets wat hy tydsvoorkeur noem – die mate waarin mense die toekoms ondergeskik aan onmiddellike voordele stel.

Politieke stelsels met kort verkiesingsiklusse en magtige belangegroepe verkort gewoonlik die samelewing se tydsvoorkeur. Politici word beloon wanneer hulle in die kort termyn sigbare resultate lewer, maar gestraf wanneer hulle korttermyn-opofferings vra om groter langtermynvoordele te bereik.

Vrye markte wat op veilige eiendomsreg berus, werk presies andersom. Hulle beloon spaarsamige gedrag, beleggings en die bou van welvaart oor die lang termyn.

Beleid wat bestaande ondernemings teen mededinging beskerm, verkort dus stilweg die samelewing se tydsvoorkeur en ondermyn die grondslag van toekomstige welvaart.

Wat word beloon, en wat word gestraf?

Thomas Sowell dring daarop aan dat ons nie ’n beleid volgens sy verklaarde bedoelings moet beoordeel nie, maar volgens die werklike aansporings wat dit skep. Jy kry meer van dit wat jy beloon en minder van dit wat jy penaliseer.

Wanneer die regering ondernemings teen mededinging beskerm, beloon dit politieke organisasie en die vermoë om gunste te bekom. Dit straf nuwe toetreders, beperk verbruikers se keuses en ontmoedig ondernemings om aan te pas of, indien nodig, plek te maak vir beter mededingers. Hulpbronne vloei dan na dié wat die politieke stelsel die beste kan gebruik, eerder as na dié wat die meeste waarde toevoeg. Mense reageer uiteindelik op die werklike belonings wat ’n stelsel bied, nie op die mooi woorde waarmee dit geregverdig word nie.

Die kennisprobleem

Friedrich Hayek het op ’n nog groter uitdaging gewys. Die kennis wat nodig is om goeie ekonomiese besluite te neem, is wyd versprei, dikwels plaaslik van aard, en verander voortdurend. Geen sentrale owerheid kan ooit oor meer as ’n klein gedeelte daarvan beskik nie.

Pryse in ’n vrye mark verrig daarom ’n onvervangbare funksie: hulle dra hierdie verspreide kennis oor. Wanneer die prys van ’n grondstof styg, pas duisende mense hul gedrag aan, al ontmoet hulle mekaar nooit en al weet hulle nie waarom die prys gestyg het nie. Die prys alleen dra reeds genoeg inligting oor om hul besluite aan te pas en te rig.

Wanneer sekere ondernemings of bedrywe teen mededinging beskerm word, word hierdie prys-seine verdraai. Hulpbronne wat elders geallokeer sou word, bly steeds vloei na die beskermde aanwendings, selfs wanneer beter alternatiewe beskikbaar is. Die kennis wat mense andersins sou gehelp het om beter besluite te neem, word derhalwe of gemanipuleer of buite rekening gelaat.

Veerkragtigheid en die vermoë om aan te pas

Vrye markte bring ondernemings voort wat meer veerkragtig is, en ’n samelewing wat makliker by verandering kan aanpas. Ondernemings wat deurlopend aan mededinging blootgestel word, ontwikkel die vermoë om vinnig op veranderende omstandighede te reageer.

Mislukking is pynlik, maar die skade bly beperk. Hulpbronne word weer beskikbaar en kan elders produktief aangewend word.

Hoe meer ’n ekonomie deur regulasies, sentrale beheer of beskermende voorregte gevorm word, hoe stadiger raak sy vermoë om koers te verander. Beskermde ondernemings het minder rede én minder vermoë om aan te pas. Boonop is die politieke reëlings wat hierdie beskerming geskep het, self moeilik om af te skaf. Die uiteinde is ’n ekonomie wat skokke swakker absorbeer en stadiger daarvan herstel.

’n Praktiese gids om ekonomiese beleid te beoordeel

Hierdie insigte gee vir ons ’n bruikbare stel vrae. Wanneer iemand voorstel dat ondernemings teen mededinging beskerm moet word of dat die soms ongenaakbare uitkomste van die mark “versag” moet word, behoort ons die volgende vrae te vra.

1. Wat is oogopslag sigbaar, en wat is nie sigbaar nie?

Identifiseer die klein, gekonsentreerde groep wat voordeel trek, sowel as die verspreide koste ongesiens verbygaan en nooit opskrifte in die nuus sal haal of deur goed georganiseerde drukgroepe verteenwoordig sal word nie. Die sigbare verhaal is selde die volle verhaal.

2. Wat is die onbedoelde langtermyngevolge vir almal (fokus nie net om die korttermyn voordele nie)?

Volg die pad van die hulpbronne en vra waarheen hulle sou gevloei het indien daar geen beskerming was nie. Wie word oor tyd benadeel, selfs al verskyn hulle nooit in die nuus of in politieke veldtogte nie?

3. Verhoog of verlaag hierdie beleid die samelewing se tydsvoorkeur?

Beloon dit korttermyn-politieke oorwinnings ten koste van langtermynbeleggings, aanpassing en volhoubare groei? Beleide wat ons vandag goed laat voel, verswak dikwels die voorwaardes vir môre se welvaart.

4. Watter gedrag word beloon, en watter gedrag word gestraf?

Maak die beleid politieke invloed waardevoller as goeie diens aan kliënte? Beskerm dit ondoeltreffendheid en ontmoedig dit nuwe mededingers? Finansiële aansporings vorm uiteindelik menslike gedrag baie meer betroubaar as goeie bedoelings.

5. Brei hierdie beleid vrye handel onder algemene spelreëls vir almal uit, of skep dit spesiale voorregte vir sommiges?

Ware vrye markte rus op die eerste beginsel. Kameraad-kapitalisme – waar politieke verbintenisse belangriker raak as mededinging – rus op die tweede. Die verskil tussen hierdie twee stelsels is lotsbepalend.

6. Berus hierdie beleid op kennis waaroor besluitnemers werklik kan beskik, of oorheers dit die verspreide kennis wat deur markpryse oorgedra word?

Sentrale owerhede werk noodwendig met onvolledige inligting. Markte benut kennis waaroor geen enkele persoon of instelling ooit volledig kan beskik nie.

7. Versterk of verswak hierdie beleid die ekonomie se vermoë om by verandering aan te pas?

Beperk dit die skade wanneer sekere ondernemings sou misluk, soos markte gewoonlik doen? Of sal dit die skade vergroot, die impak daarvan uitbrei en probleme verleng dit probleme, soos staatsingryping dikwels doen?

Hierdie vrae los nie elke beleidsdilemma op nie. Hulle beskerm ons wel teen die algemeenste denkfoute: om slegs op die sigbare te fokus; om net na die kort termyn te kyk; om net georganiseerde belangegroepe raak te sien; en om goeie bedoelings met goeie uitkomste te verwar.

Vrye markte is nie ’n utopie waar niemand ooit misluk nie. Dit is ’n ontdekkingsproses waardeur hulpbronne voortdurend na meer waardevolle gebruike verskuif, die skade van foute beperk word en die vermoë om by verandering aan te pas, voortdurend ingeoefen word.

Die alternatief – ’n stelsel waarin bestaande ondernemings stelselmatig teen mededinging beskerm word – ignoreer die onsigbare tekens wat die gunstigste toewys van hulpbronne help bepaal, prioritiseer die korttermyn bo die langtermyn, ruil produktiewe belonings vir politieke gunste, en die verspreide kennis van miljoene mense vir die beperkte kennis van ’n sentrale gesag.

Dit is waarom vrye markte, wanneer ons hulle reg verstaan, steeds die betroubaarste stelsel is wat ons het om wydverspreide en volhoubare welvaart te bevorder.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *