Daar is min geleenthede op die kalender van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) wat soveel verwagting en opgewondenheid wek as die jaarlikse Winterspele. Dit is veel meer as bloot ’n rugby- en netbaltoernooi. Dit is ’n jaarlikse byeenkoms waar vriendskappe versterk word, jong mense karakter bou, families saamkuier en ’n breër skoolgemeenskap sy identiteit op ’n natuurlike en ongedwonge wyse uitleef.
Vanjaar het Orania die voorreg gehad om hierdie besondere geleentheid aan te bied. Net-net duskant 1 000 rugby- en netbalspelers van die Noord-Kaap-, Oos-Transvaal-, Noord-Transvaal- en Noordwes-unies het oor drie dae aan die toernooi deelgeneem. Saam met afrigters, beamptes, ouers en ondersteuners het rondom 2,000 besoekers die dorp ingevaar – die grootste gebeurtenis op die CVO-skoolkalender.
Vir Orania was dit nie bloot nog ’n sportbyeenkoms nie. Dit was ’n geleentheid om gasvryheid te bewys, infrastruktuur te toets en te wys waartoe ’n klein gemeenskap in staat is wanneer almal saamwerk.
Soos by enige sporttoernooi was daar oomblikke van intense mededinging. Langs die rugbyvelde het ouers hul stemme hees geskree om hul spanne aan te vuur. Op die netbalbane is elke onderskepping, doel en fluitjie met groot emosie beleef. Soms het die spanning hoog geloop – soos dit hoort wanneer jong mense alles gee vir hul span en hul skool.
Maar sodra die eindfluitjie geblaas het, het die atmosfeer weer verander na iets wat Winterspeles besonders maak. Onder die rye gazebo’s het gesinne saam gekuier, kinders het tussen die gazebo’s gespeel, ou vriende het mekaar ná maande weer raakgeloop en nuwe vriendskappe is gesmee. Daar was ’n rustige geselligheid wat moeilik in woorde vasgevang kan word – ’n atmosfeer waar mense eenvoudig tuis gevoel het.
Dit is dalk juis hierdie balans tussen gesonde kompetisie en hartlike samesyn wat die Winterspele uniek maak. Die uitslae is belangrik, maar die herinneringe wat geskep word, bly veel langer.
Vir Orania was die logistieke uitdaging omvangryk. Die dorp se bevolking sou vir drie dae byna verdubbel. Maande se beplanning het vooraf plaasgevind. Parkering moes ingerig word, reëlings met selfoondiensverskaffers moes getref word om goeie opvangs te verseker, verkeersvloei beplan word, sportgeriewe voorberei word en honderde klein besonderhede moes in plek val.
Sou die infrastruktuur die druk kon hanteer? Sou die ekstra verkeer vlot beweeg? Sou besoekers maklik hul weg vind? Hierdie vrae was nie onredelik nie. Wanneer ’n ietwat klein dorp skielik duisende gaste ontvang, word elke deel van sy infrastruktuur op die proef gestel.
Met groot dankbaarheid kan gesê word dat die werklikheid selfs ons stoutste verwagtinge oortref het.
Verkeer het glad verloop. Parkering is doeltreffend bestuur. Die sportprogram het grotendeels volgens skedule verloop en besoekers kon die dorp veilig en gerieflik beleef. Natuurlik is daar altyd klein uitdagings wat by só ’n groot byeenkoms voorkom, maar die geheelbeeld was een van deeglike voorbereiding en uitstekende samewerking.
Die sukses behoort aan almal wat maande lank agter die skerms gewerk het; die organiseerders (personeel en ouers van Orania CVO), vrywilligers, inwoners en ondernemings wat saamgewerk het om van die Winterspele ’n besondere ervaring te maak.
Aan al die spelers wat hul unies met trots verteenwoordig het, kom ook gelukwense toe. Elke wedstryd is met oorgawe aangepak en sportmangees het deurgaans die botoon gevoer.
Baie geluk ook aan daardie spanne van die onderskeie unies wat hulle ligas gewen het.
Maar die Winterspele laat ook ’n mens nadink oor die groter prentjie van Afrikaner onderwys.
Die BCVO is die oorkoepelende liggaam wat rigting gee aan Christelike Volkseie Onderwys in Suid-Afrika. Vir dekades bou hierdie beweging reeds aan onafhanklike Afrikaanse skole waarin die Christelike geloof, Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur as grondslag dien.
Teen die agtergrond van veranderende onderwysbeleid, waaronder die BELA-wetgewing, word die vraag na die toekoms van Afrikaanse onderwys al dringender. Al hoe meer Afrikaner wonder of privaat onderwys nie in die toekoms ’n groter rol sal moet speel nie.
Hierdie onderwerp het onlangs ook sterk na vore gekom tydens ’n SOS-byeenkoms van die Solidariteit Beweging, waar een vraag telkens gehoor is: Hoe kan Afrikaanse staatskole na onafhanklike of privaat modelle migreer?
Daar bestaan nog nie eenvoudige antwoorde nie. Elke skool se omstandighede verskil en die praktiese, finansiële en regsuitdagings is omvangryk. Tog wys die gesprek self dat baie gemeenskappe ernstig begin dink oor nuwe moontlikhede.
Hier is ook geleenthede vir die BCVO.
Die beweging beskik reeds oor dekades se ervaring in die bestuur van onafhanklike Afrikaanse skole. Indien die vraag na hierdie model sou toeneem, kan daardie ervaring van groot waarde wees. Dit kan nuwe skole ondersteun, bestaande skole begelei en gemeenskappe help wat nuwe onderwysmodelle wil ontwikkel.
Die uiteindelike uitdaging sal waarskynlik minder oor administrasie en meer oor kultuur handel.
Die moderne Afrikanervolk is uiteenlopend. Mense verskil oor styl, tradisies en sekere kulturele gebruike, maar deel grootliks steeds ’n liefde vir hul taal, geloof en kultuur. Die vraag is of die BCVO daarin kan slaag om sy beginsels onwrikbaar te behou, terwyl daar terselfdertyd genoeg ruimte geskep word vir hierdie groter verskeidenheid binne die Afrikanervolk.
Dit hoef nie ’n keuse tussen beginsels en vernuwing te wees nie. Die twee kan mekaar aanvul. Indien die BCVO daarin slaag om getrou te bly aan die Christelike geloof, die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur, terwyl dit ook met wysheid en selfvertroue uiteenlopende Afrikaners akkommodeer, kan die beweging ’n nog groter rol speel in die toekoms van Afrikaner onderwys.
Die Winterspele in Orania het uiteindelik iets hiervan weerspieël.
Hier was jongmense uit verskillende dele van die land saam. Hulle het mekaar op die sportveld uitgedaag, maar ook saam gelag, saam geëet en saam herinneringe gebou. Dit is ’n beeld van ’n skoolgemeenskap wat, ten spyte van uitdagings, steeds kies om te bou eerder as om te berus.
Veerkragtigheid word immers nie net in moeilike tye gemeet nie. Dit word ook sigbaar in die bereidwilligheid om te organiseer, te dien, te verwelkom en met vertroue aan die toekoms te bou.
Die Winterspele van 2026 sal onthou word vir goeie sport, uitstekende gasvryheid en ’n dorp wat bewys het dat deeglike voorbereiding en gemeenskapsamewerking groot uitdagings kan oorkom.
Die groter vrae oor die toekoms van Afrikaner onderwys sal mettertyd beantwoord word. Tyd sal leer watter pad skole kies en hoe bewegings soos die BCVO daarop reageer.
Maar indien die gees wat gedurende hierdie Winterspele sigbaar was – geloof, samewerking, selfvertroue en gemeenskapsin – ’n aanduiding is van wat moontlik is, is daar rede om die toekoms met hoop tegemoet te gaan.



0 Comments